God se Oogmerke

Wat openbaar die Bybel omtrent God se uiteindelik oogmerke in Sy handelinge met die mensdom? Wat is die deurlopende tema wat ons vind vanaf Genesis tot by Openbaring, dwarsdeur beide die Ou en die Nuwe Testament?

Sommige sê dat dit Jesus Christus is. Dit is waar – die hele Skrif openbaar Hom. Hy verskyn op elke bladsy en Jesus het self gesê dat die Skrif van Hom getuig (Johannes 5:39). Maar wat is dit wat God deur Jesus probeer bereik? Wat is die uiteindelike doelwit?

Baie sê dat God se uiteindelike oogmerk die redding van die mens is en dat die Bybel die groot plan van verlossing openbaar. Sommige verwys selfs hierna as die “verlossings geskiedenis” – die verhaal van God wat Sy plan vir die verlossing van die mens uitwerk. Hierdie is ‘n baie gewilde standpunt, maar is dit korrek?

Ek het persoonlik ‘n probleem daarmee. Ja, ons lees reeds vanaf die eerste bladsye van God se pogings om die mens, ten spyte van homself, te red. Maar waar pas Sy handelinge met Israel in by hierdie oogmerk? As dit Sy oogmerk is om die mensdom te red, hoekom het Hy dan nie reguit na die nasies gegaan, eerder as om eers twee duisend jaar met Israel besig te wees? En wat het die twee duisend jaar tussen Adam en Abraham met daardie oogmerk uit te waai?

Die probleem is dat as God se uiteindelike oogmerk die redding van die mens is, dan is God mens-gerig en nie God-gerig nie. Dit maak dat die mens ‘n afgod vir God is, en dit kan tog nie wees nie. Ja, ons hou daarvan om te dink dat die wêreld om ons draai en dat alles wat God doen op ons betrekking het, ons redding en ons uiteindelike geluk. Maar sulke gedagtes neem ons reguit terug na die tuin waar satan vir Eva verlei het om dinge vanuit haar eie perspektief te beskou eerder as vanuit God se perspektief.

Ander sê dat die kerk – die bruid van Christus – God se hoogste doelwit is. Vir hulle draai alles om die kerk en is die kerk die uiteindelike mikpunt van al God se handelinge met die mensdom. Maar dit is ook nie waar nie want weereens maak dit ons, die lede van die kerk, die fokuspunt en maak dit die heiliges van die Ou Testament minderwaardig aangesien hulle nie deel van die kerk is nie.

Ongelukkig het die moderne Christendom so mens-gerig geraak dat God en Sy oogmerke nouliks plek vind in ons denke. Alles draai om onsself en wat God vir ons doen en kan doen. Ons het vergeet dat God self die grootste van alle wesens is. Hy is groter as ek en jy en Hy is groter as die kerk. God het self gesê dat ons geen ander gode voor Sy aangesig mag hê nie (Eksodus 20:3). Vir baie het hulle redding, die kerk of hulle self, die dinge geword wat hulle aanbid, en daarmee het dit die einddoel van alle dinge geword.

Maar God is die einddoel en die spil waarom alle dinge draai. “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! "Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom 'n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?" Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen” (Romeine 11:33-36).

Kyk weer na die laaste gedeelte van die teks: “ … Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.” Hy is die bron van alle dinge, alles moet deur Hom gedoen word, en mees belangrik, alle dinge is tot Hom. Dit beteken dat Hy die oogmerk en einddoel van alle dinge is. Jesus het gesê: “Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde” (Openbaring 21:6). Alles begin en eindig met Hom, nie met my, jou, die kerk of ons redding nie.

Kolossense 1:16-18 sê: “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.” Hier is die sleutel – alle dinge is sodanig dat Hy die eerste plek kan inneem – dat Hy die eerste mag wees, die enigste en die mees belangrike van alles. 1 Korintiërs 8:6 sê: “daar [is] nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe.” Verstaan jy dit? Ons is vir Hom, ons lewe vir Sy oogmerke, nie die ander kant om nie.

Gevolglik is God se hoogste oogmerk Homself. Dit maak God nie selfsugtig en trots nie. Hy is die Opperwese en Hy is die Eerste, die Alles in alles. Daarom is Hy geregtig daarop om die Eerste te wees. Die mens se self -gerigtheid is verkeerd omdat die mens nie die reg het om die spilpunt van die heelal te wees nie – dit is God se plek en wanneer ons onsself in daardie posisie plaas, is dit ‘n wederregtelike toeëiening van God se posisie.

Om meer spesifiek te wees: die uiteindelik oogmerk van alle dinge is om God te verheerlik. Die engele is geskape om Hom te verheerlik en selfs die aarde is geskape, nie as ‘n wonderlike plek vir die mens nie, maar om aan God die eer te bring. “Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend” (Psalm 19:2). Die mens is geskape om God te verheerlik, maar “omdat, al weet hulle van God, [eer en dank] hulle Hom nie as God nie …In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos 'n verganklike mens …” (Romeine 1:21; 23).

In die Duisendjarige Vrederyk sal ons sien dat Jesus herstel is in Sy regmatige posisie as Koning van die konings en Here van die heersers (Openbaring 17:14) wanneer Hy die fokuspunt en Heerser van die hele wêreld word. “Al die mense wat oor is uit die volke wat teen Jerusalem opgetrek het, sal jaar na jaar kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid” (Sagaria 14:16). Selfs die hemel, die Nuwe Jerusalem gaan nie oor ons nie, selfs al dink baie so. Die hemel gaan oor die Here en oor die aanbidding van die Almagtige. Die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem is nie eerstens daar vir ons genietinge nie, maar dit is die volmaakte omgewing om God se Eer as die Groot Koning te vertoon – net soos wat ‘n ring ontwerp word om die glans van die steen te vertoon.

Toe die engele die aankoms van die mens, Jesus, aangekondig het, het hulle dit nie ingelui met die woorde “die mensdom is so bevoorreg nie”, nee, hulle het begin met “Eer aan God in die hoogste hemel” (Lukas 2:14). Toe Jesus vir ons die Onse Vader gebed as riglyn gebed gegee het, het Hy begin deur die Naam van God groot te maak, en afgesluit met “Want aan U behoort …die heerlikheid tot in ewigheid” (Matteus 6:9-13 OAV). Feitlik elke boek in die nuwe Testament bevat die woorde “aan Hom kom toe eer en ewige mag” maar ons gee skaars daaraan aandag.

Die skepping, die mens, ons redding en die kerk is nie die einddoelwitte nie. Hierdie dinge is doodeenvoudig net daar om Eer te bring aan die Een wat die bron en einde van alles is. God se doelwit moet dus ook ons doelwit wees. Alles wat ons doen en sê moet een oogmerk hê – om Hom te verheerlik. As ons dinge met enige ander doel voor oë doen, dan het ons die rede van dit alles gemis. Word God in elke aspek van jou lewe verheerlik?

Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen” (1 Timoteus 1:17).